Agtergrond
Die bou van die Hartebeespoortdam en die bou van die twee kanale, naamlik die Oos- en die Wes-kanaal het daartoe aanleiding gegee dat Vorentoe gemeente later gestig is. Die werkers aan die bogenoemde projekte het in tentkampe gebly en oral het kampe ontstaan soos onder andere Wolhuterskop, Wolwekraal, Geluk en Sonop. Die dam is in 1924 voltooi en in dieselfde jaar het die eerste water deur die kanale gevloei. Die inwoners van Wolhuterskop, Sonop en Wolwekraal se dagtaak was om die bosryke bulte en vlaktes te ‘stomp.’
Hiermee word bedoel dat al die bome uitgehaal moes word om plek te maak vir nuwe landerye. In elke kamp was daar ook ‘n publieke saal van sink gebou. Hierdie sale het gedien as Kerkgeboue, maar het ook ander byeenkomste akkomModeer. Die kamptydperk het verbygegaan en soos die kampe leeg geword het, het netjiese huise op skoongemaakte persele die norm geword. Op hierdie stadium was daar geen sprake van ‘n kerk in die gemeenskap nie.
Die tye was armoedig en die omstandighede ongeorden, maar enkele persone was aangewys om die kerklike sake te behartig i.v.m. buitedienste en die Nagmaal. Daar was egter ‘n behoefte aan ‘n kerk vir die gemeenskap. NG Kerk Vorentoe is in 1935 gestig. Die verlange na ‘n eie kerkgebou het ‘n boufonds tot gevolg gehad en ‘n pragtige kerkgebou is onder die koppie op Wolwekraal opgerig. Die nuwe kerkgebou word op 26 en 27 Maart 1948 ingewy. Die pragtige kerkgebou pryk vandag nog onder die koppie en is steeds ‘n baken van hoop vir die gemeenskap.